1. Road to Literacy
  2. /
  3. Waarom prente in storieboeke...

Waarom prente in storieboeke en leesboeke belangrik is

by | Mar 11, 2024 | Road to Literacy

Dit word as vanselfsprekend aanvaar dat daar baie prente, veral pragtige illustrasies, in boeke vir jong kinders is.

Óf dit ‘n storieboek by die huis óf ‘n leesboek in die klaskamer is, dit is ongewoon om boeke wat op ʼn jong gehoor gemik is sonder prente te vind. Dit word algemeen aanvaar dat, omdat kinders nog nie woorde kan lees nie, hulle die prente nodig het om die storie te verstaan. Dit is waar, maar prente in storieboeke is selfs meer waardevol en het baie meer voordele. 

Prente inspireer ʼn liefde vir lees 

Onthou jy jou gunstelingboek as kind? Die een wat jy weer wou lees, oor en oor na wou kyk of wat jou op ʼn verbeeldingsvlug geneem het? Waaraan dink jy dadelik as jy aan daardie boek dink? Vir party van ons is dit moontlik die gebeure in die storie of die karakter waarvan ons baie gehou het. Vir die meeste lesers was dit egter die pragtige prente wat ons verbeelding aangegryp het en ons na plekke geneem het waaroor ons net kon droom.

Prente kan ʼn prettige en betrokke leeservaring vir kinders skep. Omdat kinders ʼn kort aandagspan het, kan prente help om die kind wat leer om te lees se aandag te behou. Prente moedig kinders aan om by die teks betrokke te raak, om geïnspireer te word deur karakters wat soos hulle lyk, om versteekte voorwerpe op ʼn bladsy te vind (Fang, 1996), om ʼn raaisel op te los deur versteekte leidrade in die prente te soek en om gemotiveer te wees om te sien wat die karakter op die volgende bladsy gaan doen. Daardie opwinding om by prettige prente betrokke te raak, kan ʼn kind inspireer om te lees of om lees te geniet.

Prente kan die teks en storie in ’n storieboek versterk

In kinderboeke en leesboeke met prente word die storie twee keer vertel — een keer deur die teks en ʼn tweede keer deur die illustrasies (Agosto, 1999). Kinders verstaan dus die storie wat hulle lees deur óf die woorde óf die prente. Kinders verstaan eerder stories met prente as stories met slegs woorde en geen illustrasies of foto’s nie. Prente blaas dus lewe in ‘n storie en dien as visuele gids oor wat op elke bladsy van die storie plaasvind. Kinders kan ook denkbeeldige prente van storiegebeure vorm en later hul eie stories skep wat bydra tot die ontwikkeling van hul kreatiwiteit en visualiseringsvaardighede.

Prente bevorder die ontwikkeling van geletterdheidsvaardighede in kinders 

Prente wat met teks gepaardgaan, is instrumenteel in die ontwikkeling van basiese geletterdheidsvaardighede by kinders. Illustrasies in ʼn storieboek kan help met die aanvanklike ontwikkeling van leesbegripstrategieë, soos om voorspellings en afleidings te maak. Kinders kan die woorde wat hulle lees, verbind met die karakter se uitdrukkings en optrede wat deur die illustrasies uitgebeeld word om te raai of te voorspel wat volgende in die storie gaan gebeur.

Prente kan op ʼn manier geteken word om die kind wat lees te help om literêre elemente (soos omgewing, karakterisering en knoop van ʼn verhaal) wat in die prent uitgebeeld word, raak te sien (Agosto, 1999). Illustrasies bied agtergrondinligting of kennis oor waar die storie plaasvind, waarvan die karakters in die storie hou of nie hou nie, en ander ongeskrewe besonderhede (waaronder elemente van humor) wat nie noodwendig maklik deur woorde uitgedruk kan word nie.

Prente help met die ontwikkeling van woordeskat

Prente is baie meer as net blote illustrasies van die teks — prente brei woorde in die teks uit en help om ʼn kind se woordeskat te ontwikkeling. Shulevitz (1985) beklemtoon dat “ons die betekenis van die woorde sonder prente dalk nie sou verstaan het nie”. Prente kan kinders help om onbekende woorde in ʼn teks te verstaan deur die prente in die boek met die woorde op die bladsy te verbind. Terwyl kinders lees, of as die storie vir hulle voorgelees word, kan die ouer of onderwyser ʼn kind vrae vra soos “Kan jy die na die hondehok op dié bladsy wys?” Die vraag lei die kind om die prente te gebruik om die name van onbekende voorwerpe aan te leer.

In die meeste niefiksieleesboeke word nuwe onderwerpe en nuwe woorde bekendgestel sodat die kind van die wêreld rondom hulle kan leer. Dié nuwe woorde word dikwels visueel deur prente voorgestel om kinders te help om dit te verstaan. As kinders nuwe en onbekende woorde deur prente begin verstaan, brei hul woordeskat uit.

Prente kan ʼn liefde vir kuns kweek

ʼn Storieboek met prente is een van die maniere waardeur ʼn kind aan visuele kuns bekendgestel kan word. Boeke met prente is volgens Jacobs en Tunnell (1996) ʼn perfekte manier om ʼn kind aan die prag en mag van kuns bekend te stel. Soos kinders ʼn al groter verskeidenheid boeke met illustrasies en foto’s lees, word hulle aan verskillende kunsstyle blootgestel en kan hulle, wanneer hulle gevra word, kommentaar lewer oor die prente deur te sê waarvan hulle hou of nie hou nie. So word hul kritiese denkvaardighede reeds op ʼn vroeë ouderdom ontwikkel.

Jy en jou jong gehoor kan pragtige, inspirerende illustrasies en foto’s in die Leesboeke van die Aweh!- en Aitsa!-reeks geniet — hierdie leesboeke is ideaal vir lees in enige Grondslagfase-klaskamer.


References 

Agosto, D.E. 1999. One and inseparable: Interdependent storytelling in picture storybooks. Children’s Literature in Education, 30(4): 267-280. Available from: https://doi.org/10.1023/A:1022471922077 [Accessed: 19 February 2024].

EBSCOpost. 2017. Seeing is believing – the benefits of picture books for building reading skills. Available from: https://www.ebsco.com/blogs/ebscopost/seeing-believing-benefits-picture-books-building-reading-skills [Accessed: 19 February 2024].

Balcazar, S. 2019. How picture books help kids develop literacy skills. Reading Partners. Available from: https://readingpartners.org/blog/picture-books-develop-literacy-skills/ [Accessed: 19 February 2024].

Fang, Z. 1996. Illustrations, text, and the child reader: What are pictures in children’s storybooks for? Reading Horizons: A Journal of Literacy and Language Arts, 37(2). Available from: https://scholarworks.wmich.edu/reading_horizons/vol37/iss2/3/ [Accessed: 19 February 2024].

Jacobs, J.S. & Tunnell, M.O. 1996. Children’s literature, briefly. Columbus, OH: Merrill.

Shulevitz, U. 1985 Writing with pictures: How to write and illustrate children’s books, New York, NY: Watson-Guptili.

Latest Articles

Oxford CAPS approved

View online samples of our trusted classroom solutions and support material across all phases and subjects.

Bigger, better, brighter

and more beautiful than ever before!

Brand new editions of our popular CAPS-linked bilingual dictionaries for South African learners in Grade R to 4

360° teaching at your fingertips

The all-in-one teacher’s toolbox