Kinders hou van stories. Volwassenes ook. Wanneer jy aan iemand iets vertel wat met jou gebeur het, vertel jy ‘n storie – een van baie stories.
Ons dink in stories en geniet stories wat ons verbeelding aangryp en ons help om die wêreld te ontdek. Indien ons dink in die taal waarin ons die gemaklikste praat, skep ons stories in ons moedertaal. Dit is slegs een van die redes waarom kinders hul geletterdheidsvaardighede (die vermoë om te lees en te skryf) in hul moedertaal moet ontwikkel.
Navorsing het getoon dat ‘n kind se moedertaal die optimale taal vir geletterdheid en leer in die primêre skool is (UNESCO, 2008a). Kinders wat in hul moedertaal leer lees, sal waarskynlik langer skoolgaan en beter presteer (Kosonen, 2005); ‘n ouer sal waarskynlik makliker met die kind se onderwyser kan kommunikaar, aangesien die gesprekke in hul moedertaal sal plaasvind (Benson, 2002); ‘n kind se denkvaardighede sal waarskynlik vinniger ontwikkel en sterker wees, indien hulle in die taal wat hulle tuis gebruik, onderrig word (Nishanthi, 2020); en ‘n kind sal waarskynlik ‘n sterker persoonlike (eie) en kulturele identiteit ontwikkel, en sal waarskynlik ‘n sterker band met sy/haar kultuur hê (Nishanthi, 2020).
Deur te weet hoe ‘n kind leer lees, sal help verduidelik waarom moedertaalonderrig, wanneer hulle leer lees, so belangrik is.
“’n Kind se begrip van alles rondom hom/haar geskied deur middel van die taal waarin sy/haar moeder kommunikeer, reeds van voor geboorte en dwarsdeur sy/haar lewe. “
Babas word gebore met die vermoë om enige klank van enige taal te hoor. Sodra hulle kan, gebruik hulle klanke om hul behoeftes te kommunikeer. Soos wat ouers met hul kinders in hul moedertaal praat, begin die baba om die klanke wat hulle nie hoor nie, te vergeet, aangesien dit nie nodig vir kommunikasie is nie. Gou begin hulle om klanke na te aap, en as eenjarige begin kinders om betekenis aan woorde te heg, en hulle begin om woorde te verstaan en te gebruik. Kinders begin met die woorde wat hulle die meeste hoor, dit wil sê, kinders gaan skool toe met ‘n mondelinge (verbale) woordeskat in hul moedertaal.
In die skool sal kinders geleer word dat die woorde wat ons praat en skep, opgemaak word uit klanke wat neergeskryf kan word. So, byvoorbeeld, word die woord dag opgemaak uit die letters “d”, “a” en “g”, en die klanke wat by die letters hoort. Die omskakeling van letters na klanke is wat ons doen wanneer ons lees. Ons sien die letters en ken klanke daaraan toe. Ons voeg dan die klanke saam om woorde te vorm, en dan voeg ons woorde saam om ‘n sin te maak. Dit maak dus sin dat:
- ‘n kind hierdie klanke makliker sal aanleer indien dit ooreenstem met die taal wat hulle reeds praat
- ‘n kind met begrip sal lees, indien die woorde wat hulle lees (woordeskat), pas by die woordeskat wat hulle reeds in die spreektaal aangeleer het.
Indien ‘n kind een van ons Afrika-tale tuis praat, is dit belangrik dat hulle in hul moedertaal leer lees. In al ons land se Afrika-tale stem die letter-klank-ooreenkoms altyd 100% ooreen. Dit beteken dat die letter “p”, byvoorbeeld, altyd dieselfde klank het. Dit is egter nie waar in Engels nie. Engels het ‘n ingewikkelde letter-klank-stelsel wat baie verwarrend vir ‘n tweede taalspreker kan wees. Byvoorbeeld, kyk na die letter “c”. In die woord “cat” het die letter “c” ‘n /k/-klank. In die woord “cell phone”, het die letter “c” egter ‘n /s/-klank. Kyk ook na die woord “cough” en “tough”. “Cough” en “tough” eindig albei in “ough”, maar hulle word baie verskillende uitgespreek. Byvoorbeeld: “My meat was so tough, I started to cough. I got through it though when I drank water.”
Indien ‘n kind wat ‘n Afrika-taal praat, in Engels begin skoolgaan, word hul onderrig met ongeveer ses jaar teruggehou, aangesien hulle met die Engelse letter-klank-verband sukkel en nuwe woordeskat moet aanleer (Cummins, 1981). Dit beteken dat ‘n graad 6-leerder wat in sy/haar tweede taal onderrig word, op die vlak van ‘n graad 1-leerders sal wees wat in sy/haar moedertaal onderrig word.
Navorsing het getoon dat kinders geletterdheidsvaardighede vinniger en meer effektief aanleer, indien hulle in hul moedertaal onderrig word. Baie navorsing toon ook aan dat geletterdheid- en begripsvaardighede wat ‘n kind in sy/haar moedertaal aanleer, 100% oordraagbaar is na enige taal wat later aangeleer word. Dit is waarom die KABV voorstel dat skole ‘n addisionele tweetaligheidheidsbenadering volg. Addisionele tweetaligheid is wanneer ‘n addisionele taal by die kind se eerste taal (moedertaal) gevoeg word, in plaas daarvan om die moedertaal te vervang. Indien ‘n kind in die addisionele taal (gewoonlik Engels) vanaf graad 1 onderrig word, ontwikkel hulle in nie een van die tale geletterdheidsvaardighede nie, en gevolglik word Engels stadigaan kragtiger as die moedertaal. Dit word afbrekende (subtraktiewe) tweetaligheid genoem, en die gevolg is dat die kind nie suksesvol kan lees of skryf in enigeen van die tale nie.
Lees met begrip is die weg tot alle leerervarings. Om kinders die beste wegspringpunt in onderrig te gee, moet hulle deur middel van hul moedertaal leer hoe om met begrip te lees en te skryf. Die ontwikkeling van Engels as addisionele taal sal makliker plaasvind indien die kind se geletterdheidsvaardighede in sy/haar moedertaal goed vasgelê is.
Kinders het die reg om stories te lees waarvan hulle hou, asook stories uit hul eie kultuur en agtergrond, sodat hulle hulself en hul omgewing in die stories kan raaksien en hul verbeelding kan uitbrei.
Benson, C., & Kosonen, K. (Eds.) 2013. Language issues in comparative education: Inclusive teaching and learning in non-dominant languages and cultures. Rotterdam: Sense Uitgewers
Benson, C. 2002. Real and potential benefits of bilingual progammes in developing countries. International Journal of Bilingual Education and Bilingualism, 5 (6): 303–317.
Nishanthi, R. 2020. “Understanding of the Importance of Mother Tongue Learning” Published in International Journal of Trend in Scientific Research and Development (IJTSRD). ISSN: 2456–6470, Volume 5, Uitgawe 1, Desember 2020: 77–80,
The Common Underlying Proficiency model (Cummins, 1980a, 1981a, soos aangehaal in Baker, 2011)