Elke vyf jaar neem graad 4-leerders in Suid-Afrika deel aan ‘n internasionale leesassessering wat bekend staan as PIRLS (“The Progress in International Reading Literacy Study”).
Elke vyf jaar neem graad 4-leerders in Suid-Afrika deel aan ‘n internasionale leesassessering wat bekend staan as PIRLS (“The Progress in International Reading Literacy Study”). Aangesien hierdie assessering op ‘n gereelde basis plaasvind, kan ons die vordering van ons kinders se lees- en begripsvaardighede bepaal. Die laaste gepubliseerde PIRLS-resultate kom uit die 2016-assessering, en het bevind dat 78% van alle graad 4-leerders nie met begrip in enige taal kan lees nie. Dit beteken dat slegs 22% van Suid-Afrika se tienjariges kan verstaan wat hulle lees.
Indien ‘n kind nie kan verstaan wat hy/sy lees nie, kan hy/sy nie akademiese sukses in die skool behaal nie, aangesien lees die weg tot alle leer is. Elke vak op skool, selfs Wiskunde, vereis die kennis van klanke om woorde op ‘n bladsy te lees en woordeskat om betekenis daaraan te gee. Vaardige leerders gebruik baie strategieë om te verstaan wat hulle lees, en gevolglik ontwikkel hulle verskillende leesvaardighede. Jy as ouer kan jou kind help om hierdie strategieë en vaardighede te ontwikkel en te oefen.
Lees vir jou kind
Dit is belangrik om vir babas en kleuters te lees, maar ook wanneer hulle reeds skoolgaan. Dit maak nie saak wat jy aan hulle voorlees nie. Dit kan dieselfde boek wees, ‘n koerantartikel of selfs ‘n strokiesprent. Kinders moet die beginsel van die gedrukte media verstaan, en besef dat die woorde wat ons praat en hoor, neergeskryf kan word. Kinders moet ook kan waarneem dat lees waardevol in hul huis is. Deur aan jou kind voor te lees ondersteun en bevorder jy hul vermoë om van lees te hou.
Lees aan hulle verskillende soorte stories
Lees aan hulle verskillende soorte stories sodat hulle blootgestel word aan verskillende genres, en kan bepaal van watter soorte stories hulle hou. Moedig die ontwikkeling van hul verbeelding aan, en laat hulle toe om hul eie stories aan jou te vertel – selfs al is dit lawwe stories – sodat hulle besef dat hul stories ook belangrik is.
Vra jou kind vrae
Vra jou kind vrae oor wat jy gelees het, of selfs as hulle iets op TV gekyk het. Help hulle om kritiese denkers te raak, en te dink oor wat hulle gelees het. Vra vrae soos:
- Wie was jou gunstelingkarakter?
- Watter deel van die storie het jy die meeste geniet?
- Wat het aan die begin gebeur?
- Wat het aan die einde gebeur?
- Waar het die storie afgespeel?
Vaardige leerders soek na leidrade, maak voorspellings en afleidings. Dink aan jouself wanneer jy na ‘n TV-program kyk. Jy soek na leidrade om vas te stel wat volgende gaan gebeur. Soos nuwe inligting bekend word, verander jy jou voorspellings en skep nuwes. Jy sien klein veranderings in ‘n karakter se gesigsuitdrukkings en stemtoon en lees tussen die lyne, om so uitsprake oor die storie te maak. Daar word dus afleidings gemaak en dit is wat vaardige lesers doen omdat hulle die boodskap verstaan wat die skrywer besig is om oor te dra. Jy kan jou kind help oefen om afleidings te maak deur vrae soos die volgende te vra:
- Wat dink jy gaan volgende gebeur?
- Waarom, dink jy, het die karakters dit of dat gedoen? Watter leidrade het jy in die storie gevind wat jou kan help om daardie antwoord te kry?
- Hoe het jy by die antwoord uitgekom?
- Kom ons lees hierdie bladsy weer en soek inligting wat versteek is.
Vaardige lesers besluit, wanneer hulle lees, wat belangrik is en wat nie. Dit is noodsaaklik wanneer jy stories, asook inligtingstekste, lees. Op een bladsy sal daar baie inligting wees, maar slegs sekere feite is belangrik vir die komplot (storielyn) of die inligting wat jy wil bekom. Help jou kind om hierdie leesstrategie te ontwikkel deur:
- hulle te ondersteun deur inligtingstekste, soos advertensies, brosjures en niefiksieboeke te lees
- hulle te vra om aan jou te noem wat die belangrikste ding was wat hulle op ‘n bladsy gelees het
- een feit te lees met drie voorbeelde, en hulle dan te vra wat die belangrikste ding was wat jy gelees het.
Help jou kind om verbande raak te sien wanneer hulle lees, en om dit wat hulle reeds oor ‘n onderwerp weet met nuwe inligting te verbind. Kennis brei uit. ‘n Mens leer iets oor ‘n onderwerp, en soos ʼn mens nuwe boeke of artikels lees, bou jy op bestaande kennis. Soms, wanneer ‘n mens lees, besef jy dat wat jy weet verkeerd is en jy verander jou denke of siening. ‘n Mens kan dit slegs doen indien jy verbande raaksien. Oefen hierdie leesstrategie op die volgende maniere:
- Kyk na die titel (naam/opskrif) van die storie. Het ons al vantevore ‘n soortgelyke storie gelees?
- Hierdie is ‘n boek oor insekte. Wat weet jy reeds van insekte?
- Die seun in die storie is hartseer. Wanneer het jy ook hartseer gevoel?
Jy kan ook leesstrategieë skep deur voor te gee dat jy iets nie verstaan wat jy gelees het nie. Dink hardop en vra vrae of sê dinge soos die volgende:
- Ek verstaan nie. Kom ons gaan terug en lees weer die paragraaf.
- Ek weet nie wat hierdie woord beteken nie. Kom ons kyk na die woorde rondom die woord, want dalk kan dit ons help.
- Ek verstaan steeds nie. Aan watter woord laat hierdie nuwe woord ons dink?
Indien jou kind nie leesstrategië geleer word nie, sal hy/sy nooit die vaardighede om met begrip te lees, ontwikkel nie. Hierdie belangrike vaardighede moet gevestig en onderrig word sodat die denkpatrone, wat help om hulle vaardige lesers te maak, in hul denke ontwikkel. Deur vrae te vra terwyl die kind lees, of wanneer hulle aan jou voorlees, vorm jy hierdie denkpatrone.
Daar is baie dinge wat jy kan doen om jou kind te help om ‘n vaardige leser te word. Die belangrikste ding is egter om die regte omgewing (atmosfeer), wat die waarde van lees beklemtoon, in die huis te skep. Indien moontlik, koop boeke vir jou kinders sodat hulle hul eie boeke besit en leer om boeke te waardeer. Wys aan hulle dat jy ook lees en dit geniet. Moenie lees-huiswerk as straf of werk sien wat net verdra of uitgevoer moet word nie. Stop waarmee jy besig is en gee aandag aan hom/haar tydens leeswerk en prys hom/haar – baie keer. Selfs as hy/sy swak lees, moedig hom/haar aan en vertel aan hom/haar dat hy/sy goed doen en laat hy/sy ‘n gedeelte of bladsy herhaal, totdat dit sonder foute gelees kan word. Dit sal hom/haar selfvertroue gee en die genot van lees bevorder.